Mate for Life

Elke November tot Januariemaand hou ek die broeiproses van die swarttobie (Black Oystercatcher) aan die Weskus dop.

Die merkwaardige pikswart voels met die bloedrooi oe, snawel en pote is een van slegs sewe swarttobie spesies wereldwyd. Die totale bevolkingsgetal vanaf die Oos-Kaap tot by Namibie is tussen vyf en ses-duisend. Die swarttobie is in die Internasionale Rooi Data boek gelys as“vulnerable”.

Ek onthou nog hoe my hart geklop het die eerste keer wat ons naby die hoogwatermerk twee swarttobie-eiers in n gaatjie in die sand gesien het. Drie swartmosselskulpe  waarmee die gaatjie geskraap is, le netjies teen die wal van die gaatjie.

Daardie jaar is 5 neste binne 3 km. gevind. Dit was met groot ontsteltenis toe ons ontdek hoe kwesbaar die eiers is. In daardie broeiseisoen het ek slegs twee kuikens sien uitbroei.

Ek het met my eie verganklikheid geworstel en my dadelik vereenselwig met die broosheid van hierdie merkwaardige voels. Ek het die doek versigtig genader en baie subtiel met dun lagies verf bo-oor mekaar die brose stadium prober vasle.

Met n lang kameralens en ure se geduld, kon ek die gelukkige kuiken wat wel die kuslyn kon haal, vasvang. Op die doek kon ek die kuikentjie aanraak met fyn houtskoolmerkies.

 My helende terapie (rouproses) het begin toe die stof van die houtskool my medium geword het waardeur ek my emosie kon uitdruk.  Laag op laag houtskool op soek na n swarter swart, het ek die lyfies van die swarttobies opgebou.

Die swarttobies “mate for life” en kan tot vyf-en-dertig jaar oud word. Die mens, hul voertuie en honde is die grootste bedreiging vir hierdie spesie, veral ook omdat die broeiseisoen saam met die somervakansie val. Gemiddeld broei daar slegs een kuiken elke drie jaar suksesvol uit.

Dit is hierdie broosheid van die swarttobie asook my eie gevoel van verlies wat ek in hierdie reeks skilderye prober vasvang.

Cornelia Smook (Snyman)

Close Menu